In 1995 het my ouers , tot my groot teleurstelling, besluit om die melk-kudde te verkoop. Min wetende dat dit op daardie stadium die regte besluit was. BKB Van Wyk het destyds die veiling vir ons hanteer en dit was ‘n reuse sukses. Om 'n bietjie te troos het my Pa gesê dat ek kan help besluit met watter vleisbeesras ons sou voortgaan. Ons was dit eens dat dit rooi beeste moes wees en het op die Bonsmara besluit. Die besluit was grotendeels gemaak uit die agtergrond dat my pa onder Prof. Jan Bonsma, wat ‘n groot indruk op hom gemaak het, studeer het.
Ons het 160 kommersiële Bonsmara koeie gekoop wat voorheen geregistreer was, maar waarvan die stoet-status verval het. Ons het van die begin af rekordhouding, betreffende kalfaantekeninge en dragtigheids-ondersoeke, gedoen.
My pa het vir die eerste drie jaar drie bulle by die AG veiling van Arthur de Villiers en seun van Arcadia Bonsmaras gekoop.
In 1997 is my pa oorlede terwyl ek nog besig was met my landboustudies aan die Universteit van die Vrystaat. Dit was sy ideaal om die kudde op te gradeer na stoet en toe besluit ek en my ma na sy dood om dit te doen. Vroeg in 1998 het ons begin spook met die kuddenaam, stoet-lidmaatskap en basis keuring. Mnr. Hennie Snyman het ons basis-keuring behartig en ons het besluit om al die ses-puntdiere uit te skot. Mnr. Snyman het aanbeveel dat die diere as Aanhangsel A opgeneem word en 130 vroulike diere is geregistreer.
SYFERFONTEIN Bonsmara-stoet is in 1998 geregistreer en is Arthur de Villiers Jnr. as ons kudde-mentor aangewys. Ons het ons eerste “stoetbul” by Dr. Wesson van Rensburg van Robco Bonsmaras gekoop. Later is weer ’n bul van Wesson en ook Arcadia gekoop, asook bulle van UP-George Bonsmaras.
Op die veiling het ons drie bulle teen ’n gemiddelde prys van R9 250 verkoop. Ons het vir sewe jaar saam met die Hoëveld Bonsmara-groep veiling by Jonkersdam net buite Standerton gehou.
In 2003 sluit Oom Arthur de Villiers, Snr. (Stormfontein) met sy beeste by die Syferfontein-kudde aan in die vorm van ‘n gesamentlike onderneming. Met baie genade van ons Hemelse Vader en baie toewyding, het die Syferfontein-kudde in getal en bekendheid toegeneem.
Ek was baie bevoorreg om Oom Arthur as vriend en mentor in my lewe en ons kudde te kon kry. Deur Oom Arthur het ek die telers en die bedryf baie goed leer ken en ons het letterlik duisende kilometers agter veilings, keurings en telers aangery.
In 2007 het ons besluit om ons eie veiling op Syferfontein te hou. Ek het ook my vrou, Dorothy in die jaar ontmoet en sy het sommer haar eerste vuurdoop met die eerste veiling op Syferfontein gekry. Ek moet erken dat, om alles netjies en in plek te kry om sodoende hierdie eerste veiling te laat vlot, was die stresvolste van al die veilings tot dusver. Vele dinamiese telers het onbaatsugtig my van goeie advies bedien en gehelp om die veiling te vestig. In 2008 het Mike Killassy as afslaer by die Syferfontein aangesluit, en is sedertdien nog steeds saam met ons.
Doelgerig, gefokus op môre!
Ek glo in deurlopende seleksie in ons kudde. Ek probeer so dikwels moontlik tyd tussen die diere spandeer waar ek dan aantekeninge in my kop maak. Koeie moet vrugbaar wees met goeie konstitusie en goeie melk. Die kalwers moet so na as moontlik aan 50% van die moeder se massa speen en die moeder moet dan reeds weer dragtig wees.
Elke jaar rondom speen-tyd neem ons die speenmassas en bereken die kalf se speen-indeks. Dragtigheids-ondersoeke word op die koeie gedoen om te kyk of hulle herbeset is.