.
  • In ons strewe na perfeksie
    25ste Produksieveiling
    13 Junie 2024
bottom

Geskiedenis van

SYFERFONTEIN BONSMARAS

 

In my kinderdae het ons op Syferfontein met mielies en melkbeeste geboer; ons het met die Fries/Holstein beeste groot geword. Ons kinders was dikwels vroegoggend in die melkstal om pa Jan te help met die melk-aktiwiteite...

In 1995 het my ouers , tot my groot teleurstelling, besluit om die melk-kudde te verkoop. Min wetende dat dit op daardie stadium die regte besluit was. BKB Van Wyk het destyds die veiling vir ons hanteer en dit was ‘n reuse sukses. Om 'n bietjie te troos het my Pa gesê dat ek kan help besluit met watter vleisbeesras ons sou voortgaan. Ons was dit eens dat dit rooi beeste moes wees en het op die Bonsmara besluit. Die besluit was grotendeels gemaak uit die agtergrond dat my pa onder Prof. Jan Bonsma, wat ‘n groot indruk op hom gemaak het, studeer het.


Ons het 160 kommersiële Bonsmara koeie gekoop wat voorheen geregistreer was, maar waarvan die stoet-status verval het. Ons het van die begin af rekordhouding, betreffende kalfaantekeninge en dragtigheids-ondersoeke, gedoen.

My pa het vir die eerste drie jaar drie bulle by die AG veiling van Arthur de Villiers en seun van Arcadia Bonsmaras gekoop.


In 1997 is my pa oorlede terwyl ek nog besig was met my landboustudies aan die Universteit van die Vrystaat. Dit was sy ideaal om die kudde op te gradeer na stoet en toe besluit ek en my ma na sy dood om dit te doen. Vroeg in 1998 het ons begin spook met die kuddenaam, stoet-lidmaatskap en basis keuring. Mnr. Hennie Snyman het ons basis-keuring behartig en ons het besluit om al die ses-puntdiere uit te skot. Mnr. Snyman het aanbeveel dat die diere as Aanhangsel A opgeneem word en 130 vroulike diere is geregistreer.


SYFERFONTEIN Bonsmara-stoet is in 1998 geregistreer en is Arthur de Villiers Jnr. as ons kudde-mentor aangewys. Ons het ons eerste “stoetbul” by Dr. Wesson van Rensburg van Robco Bonsmaras gekoop. Later is weer ’n bul van Wesson en ook Arcadia gekoop, asook bulle van UP-George Bonsmaras.

 

 

Veilings Geskiedenis

 

Ons eerste produksieveiling in die jaar 2000 was in samewerking met die Standerton Hoëveld Bonsmara-groep. Daar was drie telers waarvan Syferfontein die groentjies was...

Op die veiling het ons drie bulle teen ’n gemiddelde prys van R9 250 verkoop. Ons het vir sewe jaar saam met die Hoëveld Bonsmara-groep veiling by Jonkersdam net buite Standerton gehou.


In 2003 sluit Oom Arthur de Villiers, Snr. (Stormfontein) met sy beeste by die Syferfontein-kudde aan in die vorm van ‘n gesamentlike onderneming. Met baie genade van ons Hemelse Vader en baie toewyding, het die Syferfontein-kudde in getal en bekendheid toegeneem.

Ek was baie bevoorreg om Oom Arthur as vriend en mentor in my lewe en ons kudde te kon kry. Deur Oom Arthur het ek die telers en die bedryf baie goed leer ken en ons het letterlik duisende kilometers agter veilings, keurings en telers aangery.


In 2007 het ons besluit om weg te breek van die veilingsgroep en ons eie veiling op Syferfontein te hou. Ek het ook my vrou, Dorothy in die jaar ontmoet en sy het sommer haar eerste vuurdoop met die eerste veiling op Syferfontein gekry. Ek moet erken dat, om alles netjies en in plek te kry om sodoende hierdie eerste veiling te laat vlot, was die stresvolste van al die veilings tot dusver. Vele dinamiese telers het onbaatsugtig my van goeie advies bedien en gehelp om die veiling te vestig. In 2008 het Mike Killassy as afslaer by die Syferfontein, BKB van Wyk span aangesluit, en is sedertdien nog steeds saam met ons.

 

 

Doelgerig, gefokus op môre!

Syferfontein Teelbeleid

Met die invloed van ‘n goeie mentor is tipe reeds van vroeg af vir my ingedril. As jy in die strawwe koue wêreld van ons, ekonomies volhoubaar en suksesvol met vleisbeeste wil boer, moet hulle nie te groot wees nie. Ek het egter ook geluister na die behoefte van die kommersiële beesboer wat swaar speenkalwers wil produseer en daarom het ons na die goue middeweg gaan soek.

Die antwoord vir my was korter maar dikker (breër, met kapasiteit) koeie. Ons het ons beeste vroeër ryp gaan selekteer sonder om te veel op te offer op speenkalf-groei en melkproduksie. Ons is baie streng op vrugbaarheid van bulle en vroulike diere. Ons kudde spog met ‘n tussenkalfperiode van 382 dae. Ek hou van mooi, diep vroulike koeie met goeie balans (wig van voor na agter). Bulle moet ook lekker breed en manlik wees met goeie kapasiteit en voldoende bespiering.


Ons hooffokus in ons bedryf is die produksie van kwaliteit, geharde bulle vir die kommersiële teler. Ons is ook in die bevoorregte posisie om heelwat bulle aan stoettelers te verkoop. In die bedryf moet ‘n bul nie net kosmeties mooi wees nie maar ook goeie eienskappe t.o.v. struktuur, bouvorm, testes , skede, kloue, kop en nog soveel ander eienskappe hê. 'n Mens moet daarteen waak om oorerflike gebreke in jou kudde in te bring net omdat ‘n bul “mooi” is.

 

Hulp aan Telers

Stoetteling is vir my tot ’n groot mate ’n diens aan die kommersiële boer en ook aan mede-telers. Vir my maak dit nie sin om ‘n bul of ‘n koei te verkoop en jy kan nie die kliënt help om suksesvol met sy beeste te boer nie. Daar is soveel komponente in suksesvolle beesboerdery. Deur nuwe telers te help met seleksies, kuddebestuur, biosekuriteit, voeding, bemarking en soveel meer, kan jy volhoubaar met hom besigheid doen. Stoettelers moet by nuwe telers en kommersiële boere die waarde van goeie bulle en dus goeie genetika tuisbring. Ek voel ook dat daar vir almal plek onder die son is, en as jou kliënt nie suksesvol is nie, gaan jy aan die einde van die dag ook nie suksesvol wees nie.

Seleksie

 

Ek glo in deurlopende seleksie in ons kudde. Ek probeer so dikwels moontlik tyd tussen die diere spandeer waar ek dan aantekeninge in my kop maak. Koeie moet vrugbaar wees met goeie konstitusie en goeie melk. Die kalwers moet so na as moontlik aan 50% van die moeder se massa speen en die moeder moet dan reeds weer dragtig wees.


Elke jaar rondom speen-tyd neem ons die speenmassas en bereken die kalf se speen-indeks. Dragtigheids-ondersoeke word op die koeie gedoen om te kyk of hulle herbeset is.


Ons beoordeel dan die koei en kalf volgens drie kreteria:

1) Die koei se dragtigheids-status.
2) Kalf se speenindeks.
3) Die visuele punt van die koei en kalf wat voor jou in die kraal staan.

Op grond van die resultate van dié evaluasie besluit ons watter families en bloedlyne goed vaar en waaruit die vervangings-diere geselekteer sal word.

 

 

Syferfontein Veilings

Ons bied weer volgende jaar ‘n produksieveiling aan op 13 Junie 2024.
Kliek hier om ons Junie 2022 volledige foto katalogus af te laai.
Kliek hier om ons Junie 2022 Bulkatalogus af te laai.

Kontak Ons

Kontak ons gerus by die kontak besonderhede hieronder of gebruik die kontak vorm en ons kom terug na jou toe so gou as moontlik.

Nico Pieterse
Sel: 082 853 1525
E-Pos: syfbonsmara@mweb.co.za

Dorothy Pieterse
Sel: 083 633 6611
E-Pos: dorothy.syf@mweb.co.za

 

GPS Koördinate: 27°21'58.1"S 29°15'59.7"E

 

Wees ook seker om ons FACEBOOK blad te besoek.

Groete van huis tot huis en bees tot bees!
Nico, Dorothy, Kotie en Pieterse kroos.